As ek dink aan memorisasie, dink ek dadelik aan maaltafels!! EEEEEGGGGHHH!!!  Of aan geskiedenis feite!  Agge nee, net nie dit nie!!!!  Ongelukkig het baie van ons net slegte konnektasies met memorisasie.  Hoekom?  Wel, die nuutste breinnavorsing wys dat ons breine geprogrammeer is om te vergeet, so om te onthou gaan baie meer energie opneem. 

 

Waarom is dit nodig om te memoriseer?

 

Daar is soveel voordele aan memorisasie, maar ek gaan eers hier stop.  Ons kan nie alles memoriseer nie, ons breine gaan ontplof!  Prioritiseer dit wat jy wil hê jou kinders moet memoriseer.  Ons het byvoorbeeld bybelverse en gedigte (Afrikaans en Engels) gekies om te memoriseer op ‘n daaglikse manier.  Ons leer en memoriseer ander goed ook, maar nie maand in en maand uit nie, ander goed eerder op ‘n ”soos nodig” basis.

 

Maar kom ons kom terug na die voordele van memorisasie:

 

Nommer 1:  Hoe meer jy memorisasie oefen hoe meer onthou jy goed en hoe makliker raak dit.

 

Verseker!  Ons het in die begin twee weke gevat om ‘n bybelvers te memoriseer, en nou kan ons amper twee ‘n week memoriseer!  Dis amper soos wat hulle in Engels sê: ‘Practice makes perfect!’  of soos die Afrikaanse liedjie: ‘Onthou om te onthou, vergeet om te vergeet’.   Hier praat ek nie daarvan om jou brein vol te stop soos ‘n worsmasjien nie, nee, ek praat van bietjies bietjies elke dag.  Daar is baie meer waarde om daagliks kleiner hoeveelhede te leer as een groot hoeveelheid nou en dan.  

Hoe meer jy jou brein uitdaag, hoe fikser raak jou brein.   Jy sal verstom staan oor hoeveel meer jy en jou kinders tot staat is, as jy op ‘n gereelde basis goeie inligting memoriseer (dit is hoekom ons bybelverse en gedigte gekies het as ons top twee goed om te memoriseer). 

Navorsing wys dat wanneer jy gereeld goed memoriseer, jou brein nie so vinnig verouder nie.  Dit help ook die brein om in nuwe rigtings in te beweeg.  Alhoewel ons liggame verouder, het die brein die vermoë om ‘jonk’ te bly en om aan te hou leer.

 

Nommer 2: Dit verbeter taalvaardigheid

 

Enige memorisasie sal nie taalvaardigheid verbeter nie, maar wanneer jy goeie taalgebruik memoriseer (soos bv. die bybel en gedigte), dan het dit ‘n direkte impak op jou taalgebruik.  My agtjarige het bv. die Engelse woord ”Ingenious” beter verstaan met die snaakse gedig ‘The Ingenious old man’ – ‘n woord wat ons nooit andersins sou gebruik of verstaan het nie.  Die bybel (veral Spreuke) is so vol lewenswaarhede en dit gaan jou kind se kreatiewe skryfkuns verbeter as hy/sy ‘n lewenswaarheid kan onthou en in ‘n skryfstuk kan gebruik.  Gedigte is so vol metafore en idiome dat dit jou kind ook leer hoe om dit te memoriseer en hulle taalgebruik ryker te maak.

 

Nommer 3:  Dit help om beter te kan fokus

 

Daar is soveel goed wat ons kinders se aandag aftrek, veral elektronika en ek vind dat kinders meer en meer sukkel om gefokus te kan wees.  Memorisasie help die brein om te leer hoe om op een ding op ‘n keer te fokus.    Daar is baie navorsing wat wys dat fokustyd belangrik is – in my coaching maak ons gebruik van ”Healthy Mind Platter” en ‘fokus tyd’  is een van die sewe belangrike aspekte wat jou brein op ‘n daaglikse manier nodig het om geballanseerd te wees.  My dogter is as ADD gediagnoseer (maar ek weier om medikasie te gebruik) en my seun sou seker in die skool as ADHD gelabel gewees het, maar om daagliks 5-15 minute aan memorisasie te spandeer, het ons almal geleer om meer gefokus te wees.

 

Nommer 4: Dit bou verhoudings

 

Hierdie mag dalk as ‘n verrassing na jou toe kom , maar ek het dit eerstehands met my kinders beleef.  Ons doen ons memorisasiewerk vroeg in die oggend, sodra hulle wakker word (of wanneer ek hulle wakker maak), kom hulle na my bed toe en voordat ons ontbyt eet of aantrek, gaan ons gou deur ons memorisasie oefeninge – dit neem ons nie eens 15 minute ‘n dag nie.  Nou is ons oggende baie vriendeliker wanneer ons wakker word en opstaantyd is nie meer ‘n bakleiery nie.  Ek en die kinders hoor ook soms ‘n woord wat dieselfde bybelvers of gedig in ons geheue trigger, ons sal dan na mekaar kyk, glimlag, en die gedeelte saam hardop begin opsê.  Die verheldering op die gesiggies is so bevredigend as ons in mekaar se oë kyk en weet: ”Ons het nou aan dieselfde ding gedink”.  Dit gaan gereeld met ‘n giggel gepaard.  Wanneer ons langpad ry en die kinders raak verveeld, trek ek net die lys van gedigte en versies uit en ons sê dit saam op (om pappa te beïndruk natuurlik) – dit is ongelooflik hoe een uur kan verbyvlieg terwyl ons so saam kuier in die motor.    Ek vind ook ek hoef nie meer vir die kinders te preek oor ”jy mag nie dit nie, jy moet eerder sus of so”.  As jy genoeg bybelverse gememoriseer het, het jy altyd ‘n versie wat hulle ken handig byderhand, as ek hulle aan die versie herinner, onthou hulle dadelik hoe hulle veronderstel is om op te tree (maar ook nie altyd nie – dis ‘n ewige stryd).

 

Ek hoop hierdie het jou geïnspireer om dalk memorisasie met jou kinders te oorweeg of hulle nou tuisskool, publieke skool of privaatskool doen.  Daar is baie om te wen en min om te verloor.

 

Geniet dit en laat weet my wat julle top 2 onderwerpe is wat memoriseer word in julle huis.

 

 As jy meer wil weet van ‘n oulike tegniek om te help met memorisasie, gaan lees gerus my volgende blog:

http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/124-memorisasie-tegniek

 

 

 

 

 

 

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X