Hoe om blywende lewensveranderinge aan te bring

As jy die vorige blog gelees het, sal jy heel waarskynlik oortuig wees dat nuwe taktieke en hope harde werk nodig is om nuwe gewoontes en permanente verandering te laat gebeur.

Wil jy jaar na jaar met dieselfde ou resultate worstel, of is dit nou tyd om skouer aan die wiel te sit en aan daardie droom te werk wat ‘n verskil in jou lewe sal maak?

Ons kan baie leer by suksesvolle maatskappye wat ‘n nuwe projek wil aanpak, ‘n nuwe produk wil vestig of hulself in ‘n nuwe mark wil vestig.

Eerstens spandeer hulle ure om seker te maak hierdie ambisies is betekenisvol en dat dit die gewenste resultate sal bied. Ek was al teenwoordig in vergaderings waar mense twee ure lank oor ’n woord stry – soms onnodig, maar dit is omdat ons in die krag van woorde glo. Maak seker jou doelwit en gewenste eindresultaat is die moeite, tyd en geld wat jy daarop gaan spandeer, werd. Maak seker jy het die regte bewoording gekies. Verstaan jou visie – hoe sterker die visie, hoe makliker is dit om uit te voer.

Tweedens, waar is jy tans? Maatskappye spandeer baie moeite om die data, nie die opinies van mense nie, te kry. Regte data. Die feite. Wat het jy bereik, wat het jy gedoen wat gewerk of nié gewerk het nie? Verstaan jou huidige situasie sodat dít wat jy nog moet doen om jou doel te bereik, duidelik word. Ons wil nie die wiel heruitvind of tyd en energie vermors op dieselfde foute nie.

Derdens, beplan vir die verandering. Geen maatskappy sal die eerste en beste idee wat iemand het aangryp en dít najaag nie. Nee, hulle kyk na die hele reis en stel beduidende doelwitte (strategieë) om dit te bereik. Hulle ondersoek alternatiewe, spandeer tyd om ‘buite die boks’ te dink en só nuwe idees te genereer. Hulle spandeer tyd om te begroot (genoeg mense, geld, tyd) om seker te maak niks sal hulle daarvan weerhou om hul doelwitte te bereik nie. Dieselfde moeite is nodig wanneer ons ons eie persoonlike doelwitte in plek stel. Tyd wat spandeer word aan beplanning is NOOIT vermors nie. Jy sal drie keer daarvoor opmaak in die implementeringsfase. 

Jy moet hiervoor baklei. As dit maklik is, kan enigiemand dit doen óf jy sou dit jare terug al reggekry het. Wees gewillig om met jouself hieroor te baklei. Ek ken talle stories oor hoe ons geveg het gedurende die implementeringsfasie van ‘n projek bloot omdat ons almal só sterk daarin geglo het en omdat daar hindernisse is. Ons is nie bereid om op te gee nie, ons bestuurders het sekere resultate van ons verwag en het ons verantwoordbaar gehou. Wie hou jou verantwoordbaar om jou drome te bereik? Ek wil graag ook sê dat ons oor ons aktiveringsenergie moet kom. Daar is ‘n sekere hobbel in die pad vir elkeen van ons. Dié ‘hobbel’ weerhou ons daarvan om moeite in te sit, dit maak ons bang en laat ons voel asof die projek net te veel energie uit ons gaan tap. Kry iemand om jou te ondersteun en te motiveer om net oor hierdie eerste hobbel in die pad te kom. Hierna sal jy tot by die wenstreep kan hardloop.

En laastens, deel jou storie. Maatskappye vier die einde van suksesvolle projekte. Soms vier hulle die behaling van elke liewe doelwit. Deel en vier die behaling van jou doelwit. Dit was nie maklik nie, maar jy het dit reggekry. Baie geluk!

Lees deel 3 as jy voel jy het nog ondersteuning nodig. 

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X