Ek hoop die strategie wat ons laas week bespreek het om nie op die negatiewe te fokus nie, maar om die positiewe uit te lig het al begin vrugte afwerp?  Laat weet my, ek hoor graag van jou.  Maar vandag fokus ons op die derde moenie.

 

 

MOENIE 3: Moenie jou kind oorweldig nie

 

Baie keer, veral as jou kind nog negatief ingestel is, sal hy/sy baie vinnig en maklik oorweldig voel deur die geringste ou dingetjie.  Ons breine is so gemaak vir ‘n rede (al hou ons nie daarvan nie). 

 

Van die breinnavorsing wys dat jou brein (en jou kind s’n) nie meer as 4 stukke inligting op ‘n keer in die voorste korteks (waar belangrike denkprosesse gebeur), kan hou nie.  As die stukke inligting nuut is, gaan jou kind nog minder as 3 in hulle breintjie kan hou.  Wanneer sterk emosies, soos hartseer, moedeloosheid, frustrasie en woede ervaar word, sukkel die brein (vreeslik) om op enige onderwerp te fokus.

 

Sodra jy agterkom jou kind is oorweldig, maak die werk minder.  Jy moet ook kan onderskei wanneer is dit werklike emosies of aansit.  Wanneer jou kind aansit, moet jy daardie optrede op ‘n ander manier aanspreek.  Vir ‘n kind wat oorweldig is, gaan al vyf stappe wat ek een vir een in die blog aanspreek, jou baie help om die gety (om) te draai en vorentoe te beweeg.  Vir die huidige situasie, sit jy by jou kind, vat dit weg wat hom/haar oorweldig en maak dit minder.

 

Om nog meer druk op jou kind te plaas gaan die probleem net vererger en kan jou kind ‘n haat vir wiskunde gee.  Ai, ek het so baie keer drooggemaak in hierdie area, maar moet nog nie die stryd gewonne gee nie, daar is hoop.

 

 

      MOET 3: Breek die werk op in kleiner deeltjies

 

Die maklikste vir my is om op te hou wat ek doen, want ek het heel moontlik druk op my kind geplaas terwyl ek besig is met iets anders en ek het nie die emosie gelees wat my kind se brein tot ‘n stilstand bring nie. 

 

Stap 1: Stop waarmee jy besig is en fokus op jou kind.

 

Vind uit presies wat jou kind oorweldig.  Dit kan jou druk op hom/haar wees, dit kan ‘n boetie of sussie wees wat hulle irriteer, dit kan iets wees wat ‘n maatjie iewers kwytgeraak het, wat hulle ewe skielik onthou.  Dit kan dalk net wees dat hierdie een probleem besonder moeilik is vir jou kind.  Verstaan net en erken dit.

 

Stap 2: Noem die emosie op sy naam.

 

Help jou kind om ‘n naam te gee vir die emosie.  Bv.  ‘ek hoor jou hartjie is nou baie seer oor x en y.’ of ‘ek weet jou boetie pla jou en trek jou aandag af, ek sal sien wat ek daaraan kan doen’  of ‘voel jy moedeloos omdat jy bietjie sukkel?’  Moet nooit die emosie afmaak met ‘n ‘oh, just get over it’!  Deur die emosie ‘n naam te gee, maak die brein outomaties rustiger en kalmer.  Nou moet jy vorentoe beweeg.

 

Stap 3: Verwyder die probleem

 

Eerstens moet jy dit wat jou kind in die toestand gekry het, verwyder.  As dit boetie is, kry vir boetie iets anders om te doen.  Hierdie is baie relevant in ons huis.  Boetie het minder werk, so boetie is vinniger klaar.  Boetie wil nie alleen iets doen nie, so mamma moet baie kreatief raak.  As ek die probleem was om meer druk op my kind te sit, moet ek my motiewe ondersoek en heel moontlik om verskoning vra dat ek so ongeduldig is.  Verwyder die proleem. Indien die probleem een of ander herinnering van ‘n vorige keer was, laat jou kind dit uit hulle sisteem uitpraat, dan eers kan jy vorentoe beweeg.

 

Stap 4: Wys jou kind die pad vorentoe.

 

‘Kom ons kyk waarmee het jy gesukkel’.  ‘Vertel gou vir mamma wat was so moelik.’ ‘Onthou jy wat jy met die vorige sommetjie gedoen het?  Kom ons probeer dieselfde.’

Moenie die werk VIR jou kind doen nie, maar vat hulle hande en begelei hulle rustig deur die metode.  Hoe kalmer jy bly, hoe kalmer gaan jou kind wees.  Laat jou kind weer glo hulle kan.  Om nie op al die probleme vorentoe te fokus nie, maar slegs op die volgende een, maak dit makliker vir jou kind om te fokus.  Ignoreer saam met jou kind die 10 volgende somme en fokus eers om die volgende een reg te kry.  As jou kind dit regkry, maak n ophef daarvan met bv ‘n high five en ‘n ek het geweet jy is slim genoeg om dit te kan doen. Kom ons probeer net nog een meer Dit is belangrik om die goedvoel uit te rek en ook om dit te bevestig en vas te lê wat die kind gesnap het.  Hou op wanneer jy sien jou kind is emosioneel uitgeput, jy gaan nie die battle wen nie.  Gaan doen eerder iets lekker saam en kom later terug, of gaan die volgende dag aan.

 

Ek hoop hierdie het jou gehelp en sal graag wil hoor of dit vir jou werk.  Is daar ander ekstra stappe wat jy gevind het werk?

 

Hou moed, volgende week trek ons al by die vierdie blog oor die onderwerp om jou kind lief te maak vir wiskunde!  Geniet die week en ons gesels volgende week verder.

 

As jy dalk die ander artikels in die reeks gemis het, kan jy dit by hierdie skakel kry:

http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/128-lief-vir-wiskunde-jou-ingesteldheid

 http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/129-lief-vir-wiskunde-jou-fokus

http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/130-lief-vir-wiskunde-stap-vir-stap

 

 

 

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X