Werk die kalmeringstegnieke wat ons verlede week bespreek het vir jou en jou kind(ers)?  Vandag  wil ek nog ‘n moenie met jou deel, kom ons vat dit een stappie verder.

 

MOENIE 4: Moenie aangaan as die basis nog nie in plek is nie.

 

Ek glo nie in repetisie vir enige iets, enige tyd nie.  Ek glo ook nie daarin om een som tien keer uit te skryf nie.  Ek weet die brein sluit af as ek verveeld word en let dan nie op nie, al doen my hand die werk.  Daarom het ek nie dat my kinders honderde velle van 1+1=2 invul nie, omdat ek nie in dit glo nie en ook omdat ek weet ek moet tot vandag toe nog dink oor 6×8 en ek kan dit nie dadelik onthou nie, tog kon ek suksesvol matriek wiskunde doen (sien meer hieroor in blog 5 volgende week).  Maaltafels en hoofrekene (ek noem dit basiese wiskundefeite) is nie noodwendig ‘n maatstaf vir toekomstige sukses nie. 

 

Maar ek het ook geleer ek kan nie die baba met die badwater uitgooi nie.

 

Om nie oorweldig te word met somme nie, moet ek meeste van die hoofrekene kan doen, anders is alles nuut en moet my brein heeltemal te veel inligting gelyktydig aan aandag gee.  As jou kind een keer ‘n dag met ‘n optel hoofrekene sommetjie sukkel, beteken dit nie noodwendig hulle basis is nie in plek nie, dalk het hulle net vir ‘n rukkie hulle aandag verloor, maar as jy sien jou kind sukkel herhaaldelik met dieselfde eenvoudige optel- of maalsomme, moet jy dalk bietjie meer aandag hieraan gee, anders gaan die volgende deel van die wiskunde hulle maklik oorweldig en negatief maak.  Daar is niks soos ‘n gevoel van mislukking om met die basiese goed te sukkel nie, maar om dit oor en oor en oor en oor uit te skryf is nie noodwendig die oplossing nie. 

 

Onthou, ons kinders leer almal op ‘n ander manier.  Jou visuele kind hoef net na goed te kyk en hy/sy memoriseer dit.  Jou ouditiewe kind hoef dit net ‘n paar keer hardop te sê en hy/sy onthou dit.  Elke kind is anders en werksvelle met repitisie werk met ‘n baie klein persentasie van kinders.  Daar is meer as een manier om basiese hoofrekeninge effektief met jou kind onder die knie te kry. (Hierdie geld ook vir meer komplekse wiskunde feite).

 

 

MOET 4: Maak seker jou kind kan babakos eet voordat jy hom/haar vleis voer.

 

So, wanneer jy agterkom die basis is nie in plek nie, MOENIE skuldig voel nie!!! J  Ek weet, ek was ook al daar.  Toe ek besef my dogter van tien sukkel nog baie met eenvoudige maaltafels en weet nie wat 7×8 is nie en boetie van agt weet nie wat 7+8 is nie, wou ek eers my kop in skaamte laat sak.  My eerste aksie was om vir hulle werksvelle van repetisie te gee, maar ewe skielik breek ek al die ander postiewe denke waaraan ons so hard gewerk het, af. 

 

Gelukkig het ek geleer dat daar meer as een styl is van leer.

 

Ek het met spelling (engelse spelling) geleer dat om woorde neer te skryf nie noodwendig die beste metode van memoriseer is nie.  Ek moet eerder my kinders toelaat om die spelwoorde hardop te spel en hulle dan vra om dit neer te skryf.  (Daar is ‘n baie meer komplekse beskrywing waarom dit werk, maar ek wil nie nou in daardie rigting beweeg nie).  Dieselfde geld met wiskunde.  Wanneer jou kind hardop die woorde sê ‘sewe maal agt is ses en vyftig’ is die kanse baie beter dat jou kind dit gaan onthou as om net te skryf ‘7×8-56’. 

 

Ek het met ‘n paar goed geeksperimenteer, en die volgende metode het soos ‘n bom gewerk.  Ek het selfs my dogter van 10 met die optel laat begin en deurgewerk na die vermenigvuldiging toe en binne drie maande kon sy alles glad opsê en in haar ander wiskunde werk neerskryf sonder sukkel, selfs die 7×8 en ons het die proses geniet!!

 

Die metode is baie eenvoudig, maar effektief en ek kan herhaal wat nodig is, sonder om dit wat hulle baie goed ken oor en oor tot vervelens toe te doen.

 

Dit vat slegs 5 minute per kind per dag!!

 

 

Volg hierdie skakel om die metode en die pdf dokument af te laai.  Hierdie is verniet, ek wil net nie die blogpost te lank maak nie!! J.

https://wilmien-davis-consulting.teachable.com/courses/leer-maklik-wiskunde-berekenings

 

 

Kry kreatiewe maniere om jou kind te motiveer om die basiese begrippe onder die knie te kry en jy sal verbaas staan op die resultate vir die moeiliker werk.  Wees geduldig, om nou bietjie stil te staan, sal later baie tyd wen.  Ek het nie my kinders se ander werk gestop nie, ek het dit slegs teen ‘n stadiger pas laat aanbeweeg terwyl ek die hoofrekene oefen.  Soos wat hulle die hoofrekene onthou, het die ander werk makliker en vinniger geraak en kon hulle self sien waarom dit goed is om die hoofrekene te memoriseer.  (Maak n speletjie van die tafels met flitskaarte. Kinders geniet die speletjie en elke tafel wat hul regkry op hierdie manier, onthou hulle.  Laat hulle jou “toets” en moenie te slim wees nie.  Hulle geniet dit om te sien dat Mamma ook soms verkeerd is of sukkel) “Kindersielkunde”

 

Hier is nog idees van hoe my moeder ons as kinders gemotiveer het.

In die huis, in die kar, oral kan mens kinders leer.

Byvoorbeeld deur te se hoeveel wit karre sien julle hier.

Op die lang pad – hoeveel trokke, bakkies, sportmotors, die moontlikhede is legio.

Watter getal is die grootste op ‘n nommerplaat

Of die kleinste.

Wat is die somtotaal van ‘n nommerplaat.

In die winkel – kleure, getalle, grotes, kleintjies, langes, kortes.

 

Daarmee, is hierdie blogpos ook klaar, kan jy glo!  Vier weke van idees hoe om jou kind meer positief te maak oor wiskunde!!  Nog net een week oor en dan is daar geen meer keer aan julle nie.

 

Laat weet my as jy begin het met die hoofrekene en wat werk en wat werk nie. 

 

Groete tot volgende week.

 

  As jy dalk die eerste artikel in die reeks gemis het, kan jy dit by hierdie skakel kry:

 

http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/128-lief-vir-wiskunde-jou-ingesteldheid

 http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/129-lief-vir-wiskunde-jou-fokus

http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/130-lief-vir-wiskunde-stap-vir-stap

 

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X