Daar is soveel verskillende metodes om goed te memoriseer, maar ek wil graag met jou die metode deel wat ek iewers raakgelees het en vir my gesin aangepas het.  Dit werk vreeslik lekker en ons spandeer elke dag (Maandag tot Vrydag) slegs 15 minute daaraan.  Ons gebruik dit vir Bybelverse, en gedigte (Arikaans en Engels).  Ek het myne van die bekende Charlotte Mason metode aangepas en ‘n paar foto’s geneem sodat jy kan sien dit hoef nie perfek te lyk nie en dat daar meer as een manier is om hierdie metode te implementeer.

 

As jy my blogpost gemis het oor die waarde van memorisasie, kan jy dit nog steeds gaan lees – ek het die skakel onderaan hierdie blog vir jou gesit.

 

Ek bespreek nie hier die metode vir jou kind om te verstaan wat hy of sy memoriseer nie, dit is net so belangrik.  Hierdie is net ‘n maklike, stap vir stap manier om goed wat jy in jou korttermyn memoriseer vas te lê in jou langtermyn geheue.   Hierdie metode korreleer baie goed met die nuutste breinnavorsing rondom langtermyngeheue.  

 

 

Die Charlotte Mason Bybelvers memorisasie tegniek aangepas vir ons leefstyl:

Ek het gevind hierdie tegniek werk wondere.  Jy kan besluit om dit elke dag van die week te doen, naweke inkluis, maar omdat ons pappa in die oggende so vroeg ry, doen ek en die kinders dit saam in die weeksoggende en glad nie naweekoggende nie.  Ons verkies die oggende, aande het te veel ander aktiwiteite wat maak dat ons nie altyd daarby kan uitkom nie.  Kyk wat werk vir jou gesin.  Ons is wakkerder in die oggende.  Hierdie sisteem vat nie baie tyd nie en jy wen soveel ander goed.  Die verhouding tussen my en my kinders het verbeter omdat ons hierdie 10-15 minute in die oggende saam spandeer.  Ek verduidelik die metode aan die hand van ons Bybelmemorisasie, maar as jy die nuusbrief (skakel onderaan die blog) lees, sal jy foto’s sien van hoe ek dit vir ons gedigte aangepas het. 

Maak seker jy het ‘n boksie met indekskaartjies en ‘n paar afskortings van karton met die volgende oortjies:

 

Daagliks, Gelyk, Ongelyk, Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag, Vrydag, Saterdag (opsioneel), Sondag (opsioneel), 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18,19 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31

 

Skryf soveel verse op indekskaarte neer as wat julle alreeds ken. Skryf die Bybelboek , hoofstuk en vers nommer aan die bokant van die kaart en kopieer die teksgedeelte in die middel van die kaart.  Soms hou ek daarvan om neer te skryf watter ander hulpbron het die versie vir ons uitgelig. As jou kinders nog nie gewoond is aan enige memorisasie nie, begin met kort, enkele verse.  Soos wat jy en jou kinders meer en meer versies memoriseer, raak dit lekkerder en makliker en kan jy geleidelik langer gedeeltes insit as jy wil.  Ons doen enkele verse, dan ken ons dit vinniger, maar later kombineer ons dit as die verse op mekaar volg.

As julle nog geen verse ken nie, is dit ook nie ‘n probleem nie, jy is besig om te begin en dit is al wat saak maak.  Skryf ‘n paar meer bekende verse neer om te begin.

Indien julle al baie verse ken, kan jy hierdie onder die afskortings van Gelyk, Ongelyk, Maandag, Dinsdag, ens. insit vir die begin, of jy kan by Daagliks begin (soos hieronder verduidelik) en vinniger jou verse deur die sisteem beweeg.

 

Stap 1: Kom ons aanvaar jy begin nou eers.  Sit jou eerste versie agter Daagliks.   Lees dit elke oggend saam met jou kind(ers). 

Stap 2: Wanneer julle almal dit ken (soms is ek die een wat die langste vat), skuif die versie agter Gelyk en sit ‘n nuwe versie agter Daagliks.  Hierdie kan een, twee, 8 of 12 dae neem, dit maak nie saak nie, hoe meer julle hierdie doen, hoe makliker en vinniger gaan dit raak.  Ons doel is nie om die Bybel onmiddelik te ken nie, ons doel is om die Woord van God in ons harte saam te dra. Nou gaan jy elke dag die versie onder Daagliks lees en elke tweede dag die versie onder Gelyk (die dae van die maand wat ‘n gelyke getal is, word dan gelees).

Stap 3: Wanneer julle die tweede versie gememoriseer het, skuif dit agter Ongelyk in en sit jou derde versie agter Daagliks.  Elke dag, wanneer julle die daaglikse versie doen en dis ‘n gelyke dag (bv. 2, 4 of 6de van die maand), leer jy die daaglikse versie en moet jy weer die versie onder Gelyk opsê en die volgende dag die daaglikse versie en die versie onder Ongelyk.  Nou werk jy daagliks al met twee versies waarvan een al gememoriseer is.  Ek spandeer ‘n klein biejtie meer tyd met die daaglikse versie, ek sal dit twee of drie keer deurgaan, soms moet elke kind dit self probeer opsê en as hulle sukkel help ek. Die Gelyk en Ongelyke versie sê ons net een keer op en as hulle bietjie vashaak, maak dit nie saak nie, ek help uit en weet ons gaan weer by hierdie uitkom binne die volgende week.

Stap 4: Sodra julle die derde versie ken, kan jy dit nou agter die Gelyk oortjie sit en die versie wat agter die Gelyk oortjie was, word dan agter Maandag gesit.   Nou gaan jy op Maandae, 3 versies opsê, die een agter Daagliks, die een agter Gelyk of Ongelyk en die een agter Maandag.  Al die ander dae van die week het jy net twee versies, die een agter Daagliks en die een agter Gelyk of Ongelyk.

Stap 5,6,7, 8:  Die volgende vier versies wat gememoriseer word, kom dan agter Gelyk of Ongelyk en daardie versies kom agter Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Vrydag.  Jy kan by Vrydag stop of besluit om ook Saterdag en Sondag hiermee aan te gaan.  Nou is julle besig om elke dag ‘n nuwe versie te leer, en twee versies wat julle reeds ken net vinnig gou te herhaal, ‘n versie onder Daagliks, ‘n versie onder Gelyk of Ongelyk en ‘n versie onder die relevante dag van die week.

Volgende stap: Sodra jy die weeksdae vol het en jy het ‘n nuwe versie gememoriseer, moet die versies van Gelyk en Ongelyk na die weeksdae beweeg en die weeksdae versies agter die getalle 1, 2, ens. inbeweeg.  Dus gaan jy op Donderdag 3 September die versie agter Daagliks leer, die versie agter Ongelyk, Donderdag en 3 net vinnig hersien.  Wanneer jy by die 10de kom en daar is nog nie iets onder 10 nie, dan hoef jy niks daar te doen nie.  Indien jy soos ons nie naweekdae memorisasie oefen nie, maar die versies van bv. die 3de en 4de is op die naweek, sal ek Vrydae of Maandae die dae van die week doen wat oor die naweek nie gedoen is nie. 

 

Dit vat werklik nie baie van ons tyd op nie.  As die 31ste ‘n versie het, maar die maand het slegs 30 dae, sal ek besluit om die 31ste se versie op die 30ste of 1ste te herhaal.

Na 3 maande, het ek en my kinders al tot by die 10de volgemaak.  Ons vat soms ‘n week, soms 3 dae met ‘n versie.  Wanneer jy die getalle 1-31 volgemaak het, kan jy ‘n tweede versie agter nommer 1 insit.  Ek hou daarvan om bv. 1 Kor 13:13 en 1 Kor 13:14 saam agter een nommer in te sit en hulle dan as ‘n geheel te memoriseer.

 

Soos belowe, hier is die skakel na my vorige blog oor hoekom memorisasie so belangrik is: 

 http://www.wilmiendavisconsulting.co.za/my-school/123-bybelvers-memorisasie 

Ek hoop jy en jou kinders gaan hierdie tyd saam baie geniet en sommer ook nader aan God beweeg.  Laat weet my hoe dit vir julle as ‘n gesin werk.

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X