Ek het navorsing gedoen om uit te vind waarom nuwejaarsvoornemens nie altyd as permanente verandering in ons lewens manifesteer nie. Ek het jaar na jaar met dieselfde uitdagings geworstel, en die najaag van my nuwejaarsvoornemens was maar van korte duur.

Statistiek wys dat wanneer jy ’n nuwejaarsvoorneme op 1 Januarie maak, die kans 80% is dat jy reeds teen Valentynsdag sou moed opgee om dit te laat realiseer. Waarom? Want wilskrag alleen en ’n vae idee van hoe jy jou doel wil bereik is maar net nie genoeg nie. Baie keer is die voornemens te vaag: “Miskien moet ek probeer fiks word hierdie jaar”. Sommige voornemens is nie betekenisvol nie, soos “verloor gewig”; “verminder skuld”; of “wees gelukkiger”.

Miskien …

·         Vergeet jy van jou voorneme sodra die jaar besig raak en die werklas veeleisend word.

·         Kry jy nie tyd om jou doel na te streef nie.

·         Weet jy eintlik die nastreef van jou doel sal jou nie werklik gelukkig maak nie.

·         Is dit bloot ’n wens, en nie ’n doel nie. Iets anders keer jou. Byvoorbeeld, Jy wil graag jou skuld verminder, maar daar is altyd iets by die skool wat jou kind wil koop of betaal, of jy kan maar net nie wegbly van die sigarette of Lotto-kaartjies nie.

·         Het jy nie ’n ondersteuningsisteem nie. Jy is alleen in hierdie ding.

·         Stel jy te veel doelwitte op een slag en verloor motivering, want dit is net te veel om te hanteer.

·         Wil jy hê dit moet natuurlik gebeur, en is nie bereid om hard te werk om jou doelwit te bereik nie.

·         Stel jy uit. As jy nie dié week begin nie, sal jy die week daarna, of die een dáárna begin.

·         Gooi jy handdoek in na die eerste teleurstelling.

·         Is jy halfpad daar, maar gee op kort voor die wenstreep.

·         Is dit nie regte tyd vir hierdie spesifieke verandering nie.

·         Is dit wat jy DINK jy moet doen.

Wanneer ek my verlede in oënskou neem, kan ek elkeen van hierdie punte op een of ander tydstip in my lewe herken. Wilskrag alleen is nie genoeg nie. Dit is werklik moeilik om lewensveranderinge te maak én ons pogings is gewoonlik uitgeknip om te misluk wanneer ons dit alleen probeer doen. My boodskap is: daar is hoop. Lees gerus die volgende twee inskrywings in hierdie reeks.

Share this item
Shopping cart
There are no products in the cart!
Continue shopping
0
X
X
X
X
X